Chinese myn kelder N$7m se bewaringsbelegging

Die Huab-bewaringsgebied in die Noordweste is gereed om die Namibiese omgewingsminister Pohamba Shifeta hof toe te vat oor mynbedrywighede in hul bewaringsgebied. Die bewaringsgebied het ‘n vennootskap met Ultimate Safaris in 2016 begin, wat byna 7 miljoen Namibiese dollar in bewarings- en gemeenskapsprojekte belê het. Met swartrenosters onder hul bewaringskap het hulle toerisme gebruik as die basis vir ‘n 2,5 miljoen dollar-toekenning van die Omgewingsbeleggingsfonds van Namibië. Huab se renosterbewaarders het die renosters suksesvol gemonitor en beskerm. Al hul planne vir langtermyn toekomstige beleggings, is daarmee heen weens die mynbedrywighede van Chinese beleggers. Ultimate Safaris gaan hul lodge Huab Under Canvas sluit. Die omgewingsministerie se woordvoerder, Romeo Muyunda sê die minister is bewus van hierdie kwessie en sal nog reageer.