Voorspellings vir olie teen US$100 per vat vanjaar
Die olieprys kan sy momentum in 2023 hervat namate Chinese vraag herstel en die gebrek aan beleggings in die bedryf die aanbod beperk. Dit is die mening van Opul en sy vennote wat meen Brent kan weer teen 100 Amerikaanse dollar vanjaar verhandel. Op die oomblik verhandel ‘n vat rondom 86 dollar en het 2022 ook so afgesluit op vrese van ‘n wêreldwye resessie. Dit, na skerp stygings as gevolg van die oorlog in Europa. Opul-lede sal natuurlik verligting kry met ‘n hupstoot in die prys omdat hulle staatmaak op olie-inkomste. Die aankondiging kom kort op die hakke van Rusland se aankondiging dat hy in Maart daaglikse produksie met 500 000 vate sal sny. Ekonome het aan Kosmos 94.1 Nuus gesê die aankondiging moet met ‘n knippie sout geneem word.