Sakelui optimisties oor ekonomie, pessimisties oor olie

Plaaslike berigte lui dat Namibiese sakelui optimisties is oor die land se ekonomiese en indiensnemingsvooruitsigte in 2023. Dit is volgens ‘n onlangse opname wat deur Simonis Storm gedoen is. Luidens die studie beplan 47 persent van die respondente om aanstellings vanjaar te maak. Die makelaarsfirma sê die algemene sentiment onder respondente is positief oor die toekoms van Namibië se ekonomie, met huidige saketoestande wat verbeter in vergelyking met verlede jaar. Die toerisme-, mynbou-, energie- en kommunikasie-sektore het die meeste optimisme getoon teenoor kommer in die konstruksie-, gesondheids- en vervoersektore. Maar, slegs 15 persent van die respondente glo dat olieproduksie aan die kus van Namibië voordele vir die ekonomie sal inhou. Volgens Simonis Storm is daar baie lae vertrouevlakke oor hoe olie-inkomste bestee of toegewys sal word.