Tradisionele geneser gevang met lyslangvel

’n 45-jarige tradisionele geneser is op Otjiwarongo in hegtenis geneem nadat hy in besit van ’n gedroogde luislangvel gevind is. Inspekteur Maureen Mbeha, NamPol se woordvoerder in die Otjozondjupa-streek, sê die verdagte het beweer dat hy ‘n tradisionele geneser is wat al lank op Otjiwarongo, en ook op Oshakati en in Windhoek bedrywig is. Volgens Mbeha kon hy nie ’n bevredigende verduideliking bied oor hoekom hy ’n 2,5 meter lange gedroogde luislangvel in ‘n sak hou nie. Die vel is na beraming 15 000 Namibiese dollar werd en was volgens Mbeha nie baie oud nie. Die man sal na verwagting Woensdag in die Otjiwarongo-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van beheerde en beskermde wildprodukte. Polisie-ondersoeke duur voort.