Panda se voorvader het ook ‘n fopduim gehad

Navorsers het naby die stad Zhaotong in die noordelike Yunnan-provinsie van China fossiele van ongeveer 6 miljoen jaar oud van ‘n uitgestorwe panda Ailurarctos ontdek. Die fossiele toon die oudste bewyse van ‘n fopduim wat dit moontlik maak vir die panda-beer om bamboes te vreet. Die fopduim is eintlik ‘n vergrote polsbeen. Die fopduim is ‘n evolusionêre aanpassing om die bestaande vyf kloue van die panda se hand aan te vul. ‘n Beer se hand het nie die teenoorgestelde duim wat mense en verskeie primate het nie. Dit maak die hantering van verskeie voorwerpe moontlik. Ailurarctos was ‘n evolusionêre voorloper van die moderne panda, kleiner maar met anatomiese eienskappe wat ‘n soortgelyke lewenstyl aandui, insluitend ‘n bamboesdieet.