Rooies wil hoërhof toe oor lasbrief

Oudlanddros Walter Rooies Mostert het by sy verskyning in die Windhoek-streekhof aangedui dat hy die hoërhof volgende week sal nader omdat sy regte geskend is. Mostert hou vol sy inhegtenisname is onwettig. Hy sê die oorspronklike lasbrief wat sy arrestasie in Mei verlede jaar uitgevoer het, is nie deur ‘n landdros, soos deur die reg vereis, onderteken nie. Landdros Johannes Shuuveni het Mostert ingelig dat hy nie in die streekshof aansoeke kan bring nie omdat die saak reeds in die laerhof is en dit sal duplisering veroorsaak. Mostert se saak, waar hy met ander aangekla word, kom weer op 22 April voor. Daar is 29 klagte, wat ook teen Mostert gelê is, teen Joyline Kambutuku, Eveline Meroro en Salomo Joram aanhangig gemaak. Die staat beweer dat Mostert in 2012 ‘n Suid-Afrikaanse familie onwettige burgerskap laat bekom het deur vervalste dokumente in te dien en verder, dat hy in 2013, nog ‘n familie bedrieg het en meer as 340 000 Namibiese dollar uit hulle gemaak het. Sy drie medebeskuldigdes het hom na bewering gehelp om die dokumente en meer te bekom. Die aanklaer-generaal is tans besig om klagte teen Mostert se medesbeskuldiges te finaliseer en hulle saak kom weer op 3 Junie voor.