G7 eis dat Putin gehoor gee aan hofbevel

Leiers van die G7-lande het ‘n beroep op die Russiese leierskap gedoen om onmiddellik gehoor te gee aan die bevel van die Internasionale Geregshof om militêre operasies in Oekraïne op te skort. Die leiers sê hulle sal nie skroom om die Russiese President Vladimir Putin en sy ondersteuners aanspreeklik te hou nie. G7-leiers het ook gewaarsku teen enige dreigement oor die gebruik van chemiese, biologiese en kernwapens en verwante materiale. Hulle sê hulle veroordeel Rusland se kwaadwillige en ongegronde waninformasieveldtog teen Oekraïne.