Toyota sê meer oplossings as net batterymotors is nodig

Die voertuigvervaardiger, Toyota, sê hulle maak groot beleggings in battery-aangedrewe voertuie, maar sê ‘n verskeidenheid oplossings is nodig om koolstofvrystellings doeltreffend te verminder. Dit is veral belangrik om klimaatsverandering te bekamp omdat die uitlaatgasse wêreldwyd versamel en baie lank in die atmosfeer bly. Dit is die mening wat dié internasionale maatskappy se hoofwetenskaplike, Gill Pratt, gister tydens die Stand van die Motorbedryf-geleentheid by die Kyalami-renbaan oorgedra het. Hy sê regeringsaansporing is nodig om die aanvaarding van voertuie wat met nuwe soorte energie aangedryf word, te bevorder.