14 vlugtelinge in Uganda dood na weerlig

Minstens 14 mense, insluitend verskeie kinders, is dood na weerlig hulle in ‘n vlugtelingkamp in die noorde van Uganda getref het. Amptenare sê die slagoffers was inwoners van die Palabek-kamp, wat hoofsaaklik mense huisves wat uit Suid-Soedan ontheem is. Hulle het ‘n gebedsdiens in ‘n tydelike metaalstruktuur bygewoon toe die weerlig hulle getref het. Kituuma Rusoke, polisiewoordvoerder, het gesê 34 ander mense is beseer en is in gesondheidsentrums in die gebied opgeneem. Die slagoffers is nog nie geïdentifiseer nie.