14-jarige skiet agt leerders in Belgrado dood
‘n Veertienjarige seun het agt leerders en ‘n veiligheidswag by ‘n laerskool in die Serwiese hoofstad Belgrado doodgeskiet. Sy onderwyser en nog ses kinders is in die aanval gewond. Die polisie het die graad-7 leerder kort na die skietery in hegtenis geneem. Volgens ooggetuies het die kind sy onderwyser eerste geskiet en daarna op die kinders in die klaskamer losgebrand. Polisiebeamptes, geklee in koeëlvaste baadjies en valhelms, het die gebied om die skool afgesper. Die motief vir die aanval is nog nie bekend nie. Massa-skietvoorvalle kom selde voor in Serwië, wat streng vuurwapen-wetgewing het.