14 dood in massaskietvoorval in Praag

Veertien mense is dood na ʼn skietvoorval by ʼn universiteit in Praag in die Tsjeggiese Republiek. Minstens 24 is beseer en talle is in ʼn bedenklike toestand. Die skieter was ʼn 25-jarige geskiedenisstudent by die kunsfakulteit aan die Charles Universiteit in Praag. Hy wou blykbaar selfdood pleeg. Volgens aanvanklike berigte is die skieter se pa vroeër dood aangetref. Die polisie het bevestig die voorval hou nie met internasionale terreur verband nie. Hulle sê die skieter is doodgeskiet en die gebou is ontruim. Gistermiddag se aanval is die ergste noodlottige skietvoorval sedert Tsjeggië se onafhanklikheid 30 jaar gelede.