12 Libiese amptenare tronk toe na Derna-oorstromings
’n Libiese hof het 12 amptenare toegesluit in verband met die ineenstorting van ’n reeks damme verlede jaar in Derna wat duisende van die stad se inwoners doodgemaak het. Die amptenare, wat verantwoordelik was vir die bestuur van die land se damme, is deur die appèlhof in Derna tot tussen 9 en 27 jaar tronkstraf gevonnis. Vier amptenare is vrygespreek. Derna, ‘n kusstad met ‘n bevolking van 125 000, is verlede September verwoes deur massiewe vloede wat deur Storm Daniel veroorsaak is. Drie van die beskuldigdes is beveel om geld wat uit onwettige winste verkry is, terug te gee maar geen verdere besonderhede is bekend gemaak nie.