117 verkiesingskootrekenaars gesteel, data is veilig

Die Namibiese polisie ondersoek die beweerde diefstal van 117 van ‘n totaal van 137 skootrekenaars van die hoofkantoor van die Verkiesingskommissie van Namibië in die hoofstad. Die nasionale woordvoerder van Nampol, adjunk-kommissaris Kauna Shikwambi, het bevestig dat Theo Mujoro, hoofverkiesingsbeampte van die kommissie, ‘n saak by die polisie aanhangig gemaak het oor die diefstal van die skootrekenaars. Die skootrekenaars is na bewering tussen November 2020 en vroeg in Januarie vanjaar gesteel.  Die voositter van die kommissie Elsie Nghikembua het bevestig sy sal vandag ‘n verklaring uitreik maar het reeds bevestig dat geen sensitiewe data verlore is as gevolg van die diefstal nie. Die waarde van die skootrekenaars is nie bekend nie.