Zondo sê hofaanval is kommerwekkend

Die waarnemende hoofregter, Raymond Zondo, sê hy is tevrede dat die verdagte in hegtenis geneem is wat gister skade aangerig het by die konstitusionele hof in Braamfontein, Johannesburg. ‘n 36-jarige man is deur veiligheidswagte en die polisie aangekeer op aanklagte dat hy vensters met ‘n hamer stukkend geslaan het. Zondo sê die aanval moet in ‘n baie ernstige lig beskou word. Hy het wetstoepassers versoek om proaktief op te tree om soortgelyke aanvalle te voorkom. Zondo sê hy vertrou die motief vir die aanval sal tydens die ondersoek duidelik word.