Zambiër wat in die Oekraïne sterf, se oorskot gaan môre huis toe

Die oorskot van ‘n Zambiese student wat in die Oekraïnse oorlog gesterf het sal gerepatrieer word. Die Zambiese ministerie van buitelandse sake sê sy oorskot sal môre teruggevlieg word. Lusaka het ‘n dringende verduideliking van Moskou geëis oor die dood van Lemekhani Nathan Nyirenda,23, in September terwyl hy vir Rusland in die Oekraïne geveg het. In November het die hoof van Rusland se Wagner-huursoldaatgroep Yevgeny Prigozhin erken dat hy Nyirenda uit die tronk gewerf het en beweer die Zambiër het ingestem om teen die Oekraïne te gaan veg. Russiese wetgewing laat toe dat gevangenes begenadig word in spesiale militêre operasies. Zambiese owerhede sê die kwessie van vergoeding aan die familie sal mettertyd bespreek word. Nyirenda was in die tronk oor ‘n dwelm-verwante klag.