Zambezi-leeuwyfie van draadstrik bevry

Amptenare van die omgewingsministerie het ‘n leeuwyfie bevry van ‘n draadstrik waarin sy vasgevang was. Die wyfie is in die sogenaamde Buffalo Core-gebied in die Bwabwata Nasionale Park met die strik om haar lies gewaar. Daar was geen ernstige beserings nie en sy is weer vrygelaat. Die Namibiese kabinet het in 1999 beslis dat geen vee in die park toegelaat word nie en dit het gelei tot verskeie petisies van drukgroepe in die Zambezi-streek wat meen hulle is nie gekonsulteer toe die park gestig is nie. Talle gemeenskappe laat hul vee nog in die park wei wat lei tot konflik en draadstrikke is algemeen in die park.