Ysige koue vir Verenigde Koninkryk voorspel

Brittanje se weerkantoor het ‘n geel waarskuwing uitgereik oor ysige toestande. Volgens die Nasionale Weerdiens kan sneeu en ys in die suidooste, die meeste dele van Wallis en die Middellande verwag word, terwyl swaar sneeustorms ook moontlik is oor sommige dele van Skotland, Engeland en Noord-Ierland. Die temperatuur daal tot onder vriespunt. Die koue word toegeskryf aan Arktiese lug wat oor die Verenigde Koninkryk beweeg. Die land se Agentskap vir Gesondheidsveiligheid het ook ‘n waarskuwing vir koue weer uitgereik tot Donderdag om middernag.