Yorkshire se bestuurshoof bedank na rassisme-debakel

Die bestuurshoof van die Engelse graafskap Yorkshire het bedank weens ‘n rassisme-debakel. Mark Arthur was vir agt jaar aan die stuur van sake by die klub, maar het bedank ná kritiek op Yorkshire se hantering van bewerings oor rassisme deur die gewese speler Azeem Rafiq. Rafiq beweer hy het in sy tyd by die klub deurgeloop onder rasse-teistering en afknouery. Die voorsitter van die klub, Lord Patel, het die finansiële direkteur, Paul Hudson, as waarnemende bestuurshoof aangewys terwyl die klub na ‘n plaasvervanger vir Arthur soek.