Word olifante by HKIA gelaai of nie?

Dit wil voorkom asof olifante op die oomblik by die Hosea Kutako Internasionale Lughawe gelaai word. Daar is berigte van personeel wat laat gisternag aangedui het dat olifante wel gelaai word maar, Kosmos 94.1 Nuus kon dit nie onafhanklik bevestig nie. Wat ons wel weet is dat ‘n vragvliegtuig, ‘n Ilyushin-76 van die Sapsan-redery in Kazakhstan gisteroggend om 11:33 Sharjah in die Verenigde Arabiese Emirate verlaat het en om 16:17 in Mombasa geland het. Dieselfde vlug het weer 16:51 Mombasa verlaat en om 10:24 gisteraand by Hosea Kutako aangekom het. Kosmos 94.1 Nuus kan ook bevestig dat Menzies Aviation, kenners in die gebied van die vervoer van lewendige diere, die grondhantering vir die vlug op die lughawe tans hanteer. Daar is verskeie berigte dat die 22 olifante wat by Gerrie Odendaal naby Gobabis aangehou is, bestem was vir die Verenigde Arabiese Emirate maar die ministerie het dit herhaaldelik ontken. Die Ilyushin-76 kan vrag van 17,5 ton dra.