Withuis waarsku Rusland kan chemiese wapen-aanval in Oekraïne beplan

Die Withuis waarsku Rusland kan ‘n chemiese of biologiese wapen-aanval in Oekraïne beplan. Die Withuis se media-woordvoerder, Jen Psaki, sê Rusland se bewerings oor Amerika se biologiese wapen-laboratoriums en die ontwikkeling van chemiese wapens in Oekraïne, is vals en ‘n poging om verdere beplande aanvalle te regverdig wat nie uitgelok is nie. Psaki se reaksie volg nadat Westerse amptenare soortgelyke kommer oor hernude aanvalle gedeel het. Sy sê die oorlog kan uitkring en daar is ‘n moontlikheid dat Rusland onkonvensionele wapens kan gebruik.