Windhoek Sentrale Hospitaal se kraamsaal het wateronderbreking gehad

Die uitvoerende direkteur in die Namibiese gesondheidsministerie, Ben Nangombe het bevestig dat die Windhoek Sentrale Hospitaal se kraamsaal ‘n water-onderbreking gehad het weens ‘n waterpyp wat gebars het. Volgens ‘n anonieme pasiënt was die kraamsaal van Sondagmiddag tot Maandagaand sonder lopende water, wat daartoe gelei het dat sommige verwagtende vroue en moeders wat pas geboorte geskenk het, alternatiewe gesoek het, soos om water van die huis af te laat bring. Nangombe het gesê hersteldienste het onmiddellik begin toe die pyp gebars is. Hy het egter bewerings ontken dat pasiënte verplig was om water van die huis af te kry. Nangombe sê tydens ‘n water-onderbreking, het die ministerie ‘n watertenk-stelsel om lopende water in die hospitaal te herstel.