WGO sê malaria-entstof moet wyd versprei word

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het gesê die enigste entstof wat vir malaria goedgekeur is, moet wyd versprei word om kinders in Afrika te help in die bestryding van dié siekte wat jaarliks duisende lewens eis. GlaxoSmithKline, ‘n Britse farmaseutiese maatskappy het Mosquirix vervaardig en 2,3 miljoen dosisse is sedert 2019 in ‘n grootskaalse aanvoorprojek, bestuur deur die WGO, aan kleuters in Ghana, Kenia en Malawi toegedien. Die meeste mense wat aan malaria sterf, is jonger as vyf jaar oud. Die aanvoorprojek is ná dekades se kliniese navorsing in sewe Afrikalande begin.