WGO ontplooi kenners na DRK vir breinvliesontsteking

Die Wêreldgesondheidsorganisasie se Afrika-streek het bykomende kundiges in die Demokratiese Republiek van die Kongo ontplooi om te help met die jongste uitbraak van breinvliesontsteking. Die uitbreking is verlede Woensdag verklaar. Die WGO sê 14 van die 20 gesondheidsdistrikte in die Tshopo-provinsie word geraak, met 377 gevalle en 155 sterftes wat tot dusver aangemeld is. Meer as 1,6 miljoen mense tussen die ouderdomme van 1 en 29 jaar is tydens ‘n grootskaalse veldtog in 2016 in Tshopo ingeënt. Die provinsie is in die Afrika-breinvliesontstekingstreek geleë wat regoor die kontinent vanaf Senegal tot Ethiopië strek en 26 lande insluit.