Wêreldnetbal kyk ook na transgender-vroue

Die Wêreld-netbalfederasie is die jongste sportliggaam wat sy reëls oor transgenderpersone se deelname aan vrouesport gaan hersien. Die sokkerbeheerliggaam, Fifa, en Wêreldatletiek heroorweeg ook hulle reëls oor die saak terwyl die Internasionale Rugbyliga gister transvroue verbied het om aan vroue-kompetisies deel te neem. Dit volg nadat die swemliggaam, Fina, die naweek gestem het dat transgender-atlete verbied word om aan vroue se elite kompetisies deel te neem as hulle deur manlike puberteit gegaan het.