Waterkrisis by Otweya: Inwoners het nie geld nie

Inwoners van Otweya op Walvisbaai aan die kus ervaar ‘n waterkrisis omdat hulle nie waterrekenings kan betaal nie. Alle wonings is met voorafbetaalde watermeters toegerus. Die nedersetting is gevestig na die verwoestende brand by Twaloloka waar 153 informele huise verwoes is in Julie 2020. Volgens wat berig word is die meerderheid van die inwoners van Otweya werkloos en al is daar watervoorsiening kan hul nie daarvoor betaal nie. Luidens media aan die kus sê inwoners hulle het ook verstaan hulle sal die geboude huise gratis ontvang maar nou word betaling daarvoor geëis. Een inwoner sê sy kan nie die 350 dollar vir water, en dan nog 350 dollar vir haar huis maandeliks bekostig nie. Die meerderheid van die inwoners van Twaloloka was werkloos voor hulle alles verloor het in die brand.