Vyfde liggaam ná Windhoek-kitsvloede gevind

Nog ’n liggaam, vermoedelik dié van een van die vermiste haweloses wat ná verlede Woensdag se kitsvloede in Windhoek verdrink het, is gevind. Volgens die Namibiese polisie van die Khomas-streek het ’n verbyganger die liggaam in die rivier agter die Game-winkelsentrum in Windhoek gesien dryf. Volgens die woordvoerder van Nampol, adjudant-offisier Silas Shipandeni, is vyf van die 11 straatkinders en hawelose mans gered, terwyl die liggame van die ander vyf verspreid in riviere rondom die stad gevind is. Een persoon word steeds gesoek. Shipandeni sê drie van die oorledenes is nog geïdentifiseer nie, omdat hul familielede nie opgespoor kan word nie.