Vulkaan bars uit in die DRK

Inwoners van Goma in die Demokratiese Republiek van die Kongo ontruim die stad na ‘n vulkaan uitgebars het. Lawa van die berg Nyiragongo vloei in die rigting van die Goma-lughawe met duisende mense wat met matrasse en ander besittings te voet vlug. Nuusagentskappe berig talle mense vlug in die rigting van Rwanda. Nyiragongo het laas in 2002 uitgebars wat tot die dood van 250 mense gelei en 120-duisend mense dakloos gelaat het. Dit is een van die wêreld se mees aktiewe vulkane en word ook as een van die gevaarlikste beskou. President Felix Tshisekedi het sy besoek aan Europa kortgeknip en keer vandag na die Kongo terug.