VSA werk aan gebeurlikheidsplan indien Rusland sukses het

Vanuit die VSA sowel as Rusland kom berigte dat Amerika en sy bondgenote stilweg werk aan gebeurlikheidsplanne indien Russiese magte in hul operasie in die Oekraïne sou slaag en die huidige regering in ballingskap dwing. Volgens die Washington Post sowel as RT in Rusland, het die moontlikheid dat Russiese troepe die Oekraïense hoofstad Kiëf sal oorneem, ‘n vlaag van beplanning veroorsaak. Washington verwag na bewering dat die wapens wat Amerika en sy bondgenote tans aan die Oekraïne gee, gebruik moet word tydens ‘n uitgerekte opstand teen Rusland. Volgens die Post, sê bronne dat gebeurlikheidsbeplanning vir elke moontlikheid uitgevoer word en sê een so ‘n moontlikheid behels dat President Volodymyr Zelensky ‘n regering in ballingskap in Pole vestig. Nog ‘n deel van die plan is dat die VSA ‘n toekomstige pro-onafhanklikheid-opstand sal ondersteun, insluitend deur die verskaffing van wapens.