VSA se werkloosheidsyfer daal tot 3,6%

Amerika het in Maart 431 000 werksgeleenthede bygevoeg en die werkloosheidsyfer het tot op 3,6 persent gedaal. Dit bring die arbeidsmark nader aan waar dit voor die aanvang van die Covid-pandemie was. Die werkloosheidskoers het bo verwagting gedaal en is nou na aan die 3,5-persent vlak wat in Februarie 2020 ervaar is, voor die massa-afleggings wat plaasgevind het toe Covid-19 landswyd toegeslaan het. Die data het egter ook getoon die aantal werkende mense is steeds 1,6-miljoen minder as voor die begin van die pandemie.