VS ambassade skenk tabletrekenaars aan Oshikoto-leerders

Die Amerikaanse regering se Dreams-program het onlangs 100 tablet-toestelle aan die Oshikoto-streek se streeksdirekteur van onderwys oorhandig. Die tablette is bedoel vir 100 leerders van verskeie skole in die Oshikoto-streek. Die Amerikaanse ambassade sê hierdie skenking kom op ‘n tydstip dat die onderwysministerie aanlyn studiemateriaal vir leerders bekendgestel het om onafhanklike leer te ondersteun, navorsings-kapasiteit te versterk en kritiese denke te bevorder. Die tablette sal leerders toegang gee tot virtuele platforms en aanlyn inhoud wat relevant is vir hul studies. Die woordvoerder van die Amerikaanse ambassade in Namibië, Tiffany Miller, sê aan Kosmos 94.1 Nuus dit sal help dat meisies nie skole verlaat nie.