Vroueslaner Jaco Swart beweer hy is aangerand

Die veroordeelde vroueslaner Jaco Swart beweer hy is die afgelope week deur ‘n groep onbekende mans in Gauteng aangerand. Hy het aan sy prokureur, Enoch Nethanani, gesê die beweerde aanranding het Donderdag in Pretoria plaasgevind. In ‘n stemnota aan Nethanani beweer Swart hy is geslaan en in die kattebak van ‘n motor gesit. Hy sê hy is geskop en geslaan en sy aanvallers het gedreig om sy hande af te sny omdat hy vroue slaan. Hy het geen klag gelê nie en sy regsverteenwoordiger sê hy vrees nou vir sy lewe. Swart het skuld beken op twee aanklagte van aanranding, met die opset om ernstig te beseer, teen sy vervreemde vrou, Nicoleen. Hy is op 7 Junie in die Pretoria-Noord-landdroshof tot ‘n boete van R20 000 en ‘n tronkstraf van drie jaar, opgeskort vir vyf jaar, gevonnis.