Vroue-bokke opgewonde vir Europese toer

Die afrigter van die Springbok-vrouespan, Stanley Raubenheimer, sê hy sien uit na sy spelers se kans om oorsee te speel en daar ondervinding onder verskillende toestande en teen sterk teenstanders, op te doen. Die span vertrek in November op ‘n toer na Europa. Hulle sal in Vannes ‘n toets teen Frankryk speel, asook een op Twickenham teen die Barbarian-vrouespan. Raubenheimer het ‘n span van 33 spelers vir hul eerste oorsese toer in vier jaar gekies. Hy sê hy is tevrede dat die beste beskikbare spelers by die groep ingesluit is.