Vraag na water, ook stedelik, sal toeneem

Namibië se mees kritieke beperkings op waterbronne is die hoë reënvalveranderlikheid en die gepaardgaande bedreiging van droogte. Die land sal ‘n watervraag van tussen 583,4 miljoen en 771,7 miljoen kubieke meter per jaar vir 2025 tot 2030 hê. Die uitvoerende direkteur in die landbouministerie  Ndiyakupi Nghituwamata, sê namate watervraag toeneem, het waterskaarste ‘n probleem geword vir alle gebiede wat geografies ver van die meerjarige waterbronne geplaas is. Dit het ‘n wesenlike impak op ekonomiese, omgewings- en maatskaplike ontwikkelingsdoelwitte. Besproeiing beslaan sowat 60 persent van waterverbruik en gegewe die neiging van migrasie, sal die vraag na stedelike huishoudelike water (insluitend vervaardiging en nywerheid) toeneem. Die Namibiese landbouministerie hou in samewerking met die Wêreld Meteorologiese Organisasie, ‘n vergadering oor die Hidrologie- en Waterkoördineringspaneel in Swakopmund. Die paneel werk vir die volhoubare gebruik en bestuur van waterbronne, ook oorgrensbronne, sowel as dienste in die verband.