Voornemende renosterstroper met vuurwapen in westelike Etosha vasgetrek

‘n Namibiese man van Okangwati is in hegtenis geneem wat glo van voorneme was om ‘n renoster aan die westekant van die Etosha Nasionale Park te stroop. Die 28-jarige man wou glo saam met ander voornemende stropers volgens intelligensie-geleide inligting renosters in die park stroop. Hy is met ‘n vuurwapen en vyf patrone in sy besit in hegtenis geneem. Die verdagte sal vandag in die hof verskyn op vyf aanklagte, naamlik die sameswering om ‘n renoster te stroop, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, die toetrede tot die nasionale park sonder ‘n geldige permit en die dra van ‘n vuurwapen in ‘n nasionale park.