Voorheen benadeelde kommersiële boere vra Agribank om rente af te skryf

‘n Groep kommersiële boere wat hulself as voorheen benadeelde Namibiërs beskryf, doen ‘n beroep op Agribank om rente wat betaalbaar is op agterstallige lenings, af te skryf. Berigte lui dat lede van die groep sê hulle het tussen 2013 en 2019 droogte ervaar en het 35 persent van hulle kudde oor. Die groep sê ander instansies soos NamRA en die studente-hulpfonds het ook onlangs rente laat vaar. Agribank het onlangs bevestig dat meer as 500 miljoen Namibiese dollar aan hom geskuld word in agterstallige lenings. Die bank het hom in die afgelope paar jaar aan die hof gewend en het gesukkel met ‘n kultuur van wanbetaling. Die groep sal volgens berigte vandag met die bank in die verband vergader.