Voorafbetaalde water reeds aan 4 dorpsrade met skuld

NamWater het vroeër aangekondig dat hy voorafbetaalde water aan dorpsrade sal begin voorsien omdat skuldvlakke nie aangespreek word nie. Katima Mulilo, Rundu, Rehoboth en Arandis het reeds die stelsel. Volgens die watervoorsiener, ontvang die dorpsrade net die hoeveelheid water waarvoor hulle vooruit betaal. Katima skuld ongeveer 40 miljoen dollar terwyl Rundu meer as 120 miljoen dollar aan NamWater skuld. Rehoboth skuld 23 miljoen dollar. Dorpsrade sê die ministerie van stedelik ontwikkeling kom nie sy belofte van bystand na nie. Na die opdrag dat almal tydens die pandemie met water voorsien word, sou die ministerie dorpsrade gesubsidieer het maar dit het nie gebeur nie. Keetmanshoop sê die ministerie het sedert Maart 2020 nog net 200 000 dollar vir hulle by NamWater betaal.