Voerpryse verhoed die ontwikkeling van plaaslike speenkalf-mark

Die Namibiese landboubedryf kom gereeld onder skoot vir die uitvoer, op die hoef, van speenkalwers na Suid-Afrikaanse voerkrale sonder dat die diere plaaslik verwerk word. Die groter meerderheid van die boere wat van die mark gebruik maak is kommunale boere van veral die Omaheke-streek. Volgens ‘n ontleding deur die makelaarsfirma, High Economic Intelligence, is die hoofrede hiervoor die hoër pryse wat plaaslike abattoirs bied vir volwasse diere teenoor die pryse wat Suid-Afrikaanse voerkrale vir speenkalwers bied. Dus, sê die ontleders, daar is geen aansporing vir boere om volwasse diere te produseer nie. Die buurland se voerkrale bied ook hoër pryse as plaaslike veilingspryse, aangedryf deur goedkoper voerpryse in die buurland teenoor plaaslike pryse. Dus, sê High Economic Intelligence, is die hoë voerpryse wat plaaslik voorkom, die hoofrede vir die onderbenutting van plaaslike abattoirs.