VN waarsku oor hondersnood in Cabo Delgado

Noord-Mosambiek staar ernstige voedseltekorte in die gesig. Die VN se Wêreldvoedselprogram lewer voedselhulp aan ‘n miljoen mense wat geraak word maar waarsku dat hy gedwing sal word om teen Februarie sy bystand op te skort, tensy ‘n bykomende 51 miljoen Amerikaanse dollar dringend ontvang word. Februarie is die hoogtepunt van die voedseltekorte in Mosambiek, met kos wat duurder is soos boere wag vir oeste om in te kom. Dit is ook die sikloonseisoen. Cabo Delgado-provinsie is die episentrum van ‘n vyf jaar oue jihadistiese opstand wat tot dusver meer as 4 300 lewens geëis het, en ongeveer ‘n miljoen mense ontheem het. Maar die jihadiste maak nou invalle in die suide van Cabo Delgado en die konflik spoel oor na die naburige Nampula- en Niassa-provinsies.