VN stuur sending na 53 Oekraïnse krygsgevangenes dood is in aanval

Die Verenigde Nasies sê hy beplan ‘n feitesending nadat 53 Oekraïnse krygsgevangenes dood is in ‘n ontploffing by barakke in Olenivka, wat deur separatiste beheer word. Volgens berigte beweer Oekraïne die aanval is deur Russiese huursoldate van die Wagner-groep uitgevoer, terwyl Moskou sê die Oekraïnse weermag het vuurpyle wat deur Amerika verskaf is gebruik om die tronk aan te val. Die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, sê hy hoop albei lande sal lede van die sending toegang gee en die nodige inligting verskaf om agter die waarheid te kom.