Vlugtelinge van Angola soek elders werk

Angolese vlugtelinge is steeds ‘n bron van kommer vir owerhede in die Noorde en luidens die jongste berigte het die getalle by Etunda skerp oor die afgelope paar dae gedaal. Die mense het volgens die Omusati-goewerneur Erginus Endjala nie teruggekeer Angola toe nie maar is elders in die land opsoek na werk. Van hulle het ook vlug ingeslaan toe hulle hoor hulle word verskuif. Endjala sê daar is vrese dat hulle in ‘n kamp aangehou sal word om uiteindelik gedeporteer te word. Meer as 400 families en 2 000 individue is by Etunda geregistreer. Hulle sê hulle wil in Namibië bly tot die volgende reënseisoen. Hulle het uit Angola gevlug weens erge droogtetoestande.