Vloedvlakke bly styg in Oshana

Die beampte in beheer van die vloednoodsentrum op Oshakati, Jonas Kapenda, sê dat die vlak van die vloedwater in die Oshana-streek steeds vinnig styg. Hy sê grondpaaie is weggespoel wat gemeenskappe afgesny het en dit vir hulle moeilik maak om toegang tot noodsaaklike dienste te kry. Hy sê die vloedwater is hoog in die Ongwediva- en Ondangwa-landelike kiesafdelings, maar slegs twee huishoudings is in elk van die kiesafdelings hervestig. Van die streek se drie dorpe is Ondangwa en Ongwediva nog nie geraak nie, maar by Oshakati is meer as 20 huishoudings uit hul huise ontruim en nóg sal vandag hervestig word. ’n Tentkamp is by Ehenye opgerig om hulle te akkommodeer. Vier skole is tydelik gesluit terwyl meer as 80 onderwysers en sowat 2 000 leerders by die huis sit weens die vloedsituasie. Nóg vyf skole sal na verwagting in die streek sluit.