Vliegtuigwrak na byna 80 jaar in Himalayas gevind

‘n Vliegtuig uit die Tweede Wêreldoorlog is in die afgeleë Himalaya-berge in Indië opgespoor, byna 80 jaar nadat dit sonder enige oorlewendes neergestort het. Die C-46 vragvliegtuig het 13 mense uit die suide van China vervoer toe dit in 1945 in stormweer oor ‘n bergreeks in die Arunachal Pradesh-streek verdwyn het. Internasionale nuusagentskappe berig die gevaarlike soektog het die lewens van drie gidse geëis. Die span, onder leiding van die Amerikaanse avonturier, Clayton Kuhles, het die wrak eindelik verlede maand gevind. Hulle kon dit aan die stertnommer uitken.