Vliegtuigongeluk-ondersoekspan op pad na Impalila-eiland

Die direkteur in die direktoraat van vliegtuigongeluk-ondersoeke in die Namibiese vervoerministerie, kaptein Magnus Abraham, het meer inligting rakende die vliegtuigongeluk by Impalila-eiland in die Zambezi-streek aan Kosmos 94.1 Nuus verskaf. Die vroulike vlieënier en vier toeriste wat aan boord van die Namibies-geregistreerde Cessna-210-vliegtuig was, is almal in die ongeluk dood. Abraham sê aan Kosmos 94.1 Nuus die Namibiese polisie is reeds op die ongelukstoneel en hul direktoraat se ondersoekspan is op pad.