Vleisraad help met elektrifisering van rooilyn teen olifantskade

Die Namibiese Vleisraad het begin om dele van die veterinêre kordonheining te elektrifiseer, in ’n poging om die integriteit van die heining en die bek-en-klouseer-vrye sone te beskerm. Dit was nodig, aangesien die olifantbevolking van Namibië die afgelope paar jaar so gegroei het dat die rooilyn gereeld beskadig word, in so ‘n mate dat die kontrakteurs wat verantwoordelik was vir die instandhouding van die heining, feitlik nie tred kon hou met die herstel nie. ’n Afstand van 108 kilometer is bestem vir elektrifisering, wat in fases van 15 kilometer voltooi moet word. Goliath Tujendapi, bestuurder vir handel en bemarking by die Vleisraad het met Kosmos 94.1 Nuus gepraat.