Vier plaaswerkers in Otjiwarongo-distrik slaan glo vermeende stroper dood

Vier plaaswerkers van die plaas Doringlaagte in die Otjiwarongo-distrik sal in die hof verskyn op klagte dat hulle ‘n vermeende stroper doodgeslaan en ‘n ander een ernstig beseer het. Volgens die woordvoerder van die Namibiese polisie in die Otjozondjupa-streek, inspekteur Maureen Mbeha, het die plaaswerkers gister twee onbekende mans op die plaas opgemerk, hul voetspore gevolg en hulle omstreeks vier-uur die middag vasgetrek. Tydens ondervraging is die twee mans glo vasgemaak en met stokke geslaan. Volgens Mbeha het een van die mans aan sy beserings beswyk en die ander een is ernstig beseer. Die beseerde is in die Otjiwarongo-staatshospitaal opgeneem en in ‘n ernstige toestand. Die vier plaaswerkers, onderskeidelik 24, 27, 31 en 54 jaar oud, sal op klagte van moord en poging tot moord verskyn.