Video van Memphis-polisie skok

Die video van die aanval op Tyre Nichols, ‘n swart motoris wat vroeër vandeesmaand deur die Memphis-polisie voorgekeer is, het wyd reaksie uitgelok. Die video wys hoe hy geslaan word terwyl hy vir sy ma roep. Vyf polisiebeamptes, wat van moord aangekla is, het hom skoppe, vuishoue en stampe toegedien. Die beeldmateriaal van lyfkameras en een wat op ‘n paal gemonteer was, is aanlyn geplaas ‘n dag nadat die vyf polisielede formeel aangekla is na Nichols se dood drie dae na die aanranding, op 10 Januarie. Hy was 29. Die video wys hoe Nichols herhaaldelik geslaan is ver verby die punt waar hy enige bedreiging vir die polisie kon inhou, en op ‘n stadium hou twee beamptes hom regop terwyl ‘n ander hom herhaaldelik in die gesig slaan.