Vervoervakbond eis reaksie by NEF, of sy lede staak

Werknemers by sommige vervoermaatskappye, veral vragmotorbestuurders, het briewe ontvang dat indien hulle volgende week sou staak, hulle nie betaling vir afwesige dae sal ontvang nie. Dit volg ná die Namibiese Revolusionêre Vervoer-unie ‘n brief aan Daan Strauss, sekretaris-generaal van die Namibiese Werkgewersfederasie, geskryf het om sy ingryping te vra. Volgens die vakbond het hulle sedert hul registrasie as ‘n vakbond verneem van die optrede van sommige van die bedryf se werkgewers se ernstige en doelbewuste miskenning van arbeidswetgewing met betrekking tot vakbonde. Die brief is op 8 Februarie gestuur en die vakbond het hulle 14 dae gegee om ‘n oplossing te vind. Indien hulle versuim, sal ‘n landwye staking volg. Petersen Kambinda, die vakbond sekretaris-generaal, sê hy glo dialoog sal die staking kan voorkom.