Vertragings kan oorskot in houtskool veroorsaak

Die Namibiese Houtskool Vereniging waarsku sy produsente dat daar moontlik ’n oorskot aan houtskool is weens ’n tekort aan houers vir die uitvoer daarvan. Rederye sukkel tans om genoeg houers op skepe gelaai te kry vir uitvoer na Europa. Dit is hoofsaaklik te wyte aan die onlangse onluste in Suid-Afrika wat ’n impak op hawens gehad het. Daar is tans ’n groot agterstand by die hawens om Suid-Afrikaanse produkte na Europa te stuur. Houtskool word beskou as goedere met lae prioriteit en word slegs op vaartuie gelaai as daar voldoende laairuimte is. Die vraag na Namibiese houtskool het toegeneem, maar die logistieke uitdagings kan ’n oorskot van houtskool in Namibië veroorsaak. Verskepingskantore het die vereniging die versekering gegee dat dit slegs ’n tydelike uitdaging is en dat uitvoere binne die volgende maand of twee weer normaal sal wees. Boere moet hiervan kennis neem en die nodige reëlings met finansiële instellings tref.