Versigtig vir onregverdige prysstygings in Gauteng

Die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling in Gauteng sê dis onredelik en onregverdig vir verskaffers van goedere om pryse sonder ekonomiese regverdiging te verhoog. Dit volg op verslae van moontlike voedseltekorte in Gauteng na die onlangse openbare onrus. Die goedere en dienste ter sprake is basiese voedselsoorte en verbruikersartikels, noodvoorraad en dienste, en mediese en higiëniese voorrade. Die departement sê ‘n verskaffer of individu kan ‘n boete van tot 1 miljoen Suid-Afrikaanse rand opgelê word indien bepalings op onregverdige prysverhogings oortree word.