Verregse bomplanter nou in Namibiese tronk

‘n Verregse bomplanter wat in die 1990’s in Suid-Afrika lewenslank tronk toe gestuur is vir sy aandeel in ‘n ontploffing waarin vier mense dood is, het dieselfde dag waarop hy op parool vrygelaat is, oor die grens na Namibië gevlug, berig Rapport. Jan (Voetbôl) van der Westhuizen, die baasbrein agter die Oukersdag-bomontploffing in Worcester in 1996, was egter binne ure nadat hy uit die tronk op Upington vrygelaat is, weer agter tralies. Hy is by Aroab in die Karas-streek vasgetrek en sal aan Suid-Afrika uitgelewer word waar hy weer die res van sy lewenslange vonnis hervat met nuwe aanklagte van ontvlugting en verbreking van parool-voorwaardes.